Lukas

LUKAS 1

‘n Woord aan Teofilus

1:1 Hooggeagte Teofilus!
Daar is baie wat onderneem het om ‘n verhaal te skrywe van die dinge wat onder ons gebeur het. 2 Hulle het dit opgeteken soos dit aan ons oorgelewer is deur die mense wat van die begin af ooggetuies en dienaars van die Woord was. 3 Daarom het ek dit ook goedgedink om self alles stap vir stap van voor af te ondersoek en die verhaal noukeurig in die regte volgorde vir u neer te skryf. 4 So kan u te wete kom dat die dinge waaroor u onderrig is, heeltemal betroubaar is.

Die geboorte van Johannes die Doper word aangekondig

5 In die tyd van koning Herodes van Judea was daar ‘n priester met die naam Sagaria, uit die diensgroep van Abia. Ook sy vrou het van Aäron afgestam, en haar naam was Elisabet. 6 Hulle was albei getrou aan die wet van God en het onberispelik al die gebooie en voorskrifte van die Here onderhou. 7 Hulle het geen kind gehad nie, omdat Elisabet onvrugbaar was. Buitendien was albei reeds op ver gevorderde leeftyd.
8 Op ‘n keer toe Sagaria in die beurt van sy diensgroep besig was om die priesterdiens voor God te verrig, 9 is hy volgens die priesterlike gebruik deur die lot aangewys om in die tempel van die Here in te gaan en die wierook op die altaar te brand. 10 Terwyl die wierookoffer gebring is, was die hele volksmenigte buite besig om te bid. 11 Toe verskyn daar aan die regterkant van die wierookaltaar ‘n engel van die Here aan hom. 12 Sagaria het geskrik toe hy hom daar sien staan en hy het baie bang geword, 13 maar die engel sê vir hom: “Moenie bang wees nie, Sagaria, want jou gebed is verhoor. Jou vrou, Elisabet, sal aan jou ‘n seun skenk, en jy moet hom Johannes noem. 14 Hy sal ‘n bron van blydskap en vreugde vir jou wees, en baie sal bly wees oor sy geboorte, 15 want hy sal groot wees in die oë van die Here. Wyn en bier sal hy glad nie drink nie, en reeds van sy geboorte af sal hy met die Heilige Gees vervul wees. 16 Hy sal baie uit die volk Israel laat terugkeer tot die Here hulle God. 17 En hy sal voor die Here uit gaan in dieselfde gees en krag as Elia, om vaders en kinders met mekaar te versoen, om ongehoorsames op die regte pad terug te bring en om so vir die koms van die Here ‘n volk voor te berei.”
18 Toe sê Sagaria vir die engel: “Waaraan sal ek dit weet? Ek is ‘n ou man, en my vrou is al op ver gevorderde leeftyd.”
19 Die engel antwoord hom: “Ek is Gabriël, wat in diens van God staan. Ek is gestuur om met jou te praat en hierdie goeie tyding vir jou te bring. 20 Kyk, jy sal stom wees en nie kan praat nie tot op die dag dat hierdie dinge gebeur, omdat jy my woorde, wat op die bestemde tyd vervul sal word, nie geglo het nie.”
21 Intussen het die volk vir Sagaria gestaan en wag en begin wonder waarom hy so lank in die tempel bly. 22 Toe hy uitkom, kon hy nie met hulle praat nie. Hulle kom toe agter dat hy in die tempel ‘n gesig gesien het. Hy het net aanhoudend vir hulle beduie en stom gebly. 23 Toe die tyd van sy tempeldiens om was, het hy huis toe gegaan.
24 Na daardie tyd het sy vrou Elisabet swanger geword en haar vyf maande lank afgesonder. Sy het gesê: 25 “Die Here het dit vir my gedoen. Nou het Hy na my omgesien om my smaad onder die mense weg te neem.”

Die geboorte van Jesus word aangekondig

26 In die sesde maand van Elisabet se swangerskap het God die engel Gabriël gestuur na ‘n maagd in Nasaret, ‘n dorp in Galilea. 27 Sy was verloof aan Josef, ‘n man uit die geslag van Dawid. Die naam van die maagd was Maria. 28 Toe die engel by haar kom, sê hy: “Ek groet jou, begenadigde! Die Here is by jou.”

29 Sy was verbysterd oor die woorde en het gewonder wat die begroeting tog kon beteken. 30 Die engel sê toe vir haar: “Moenie bang wees nie, Maria, want God bewys genade aan jou. 31 Jy sal swanger word en ‘n seun in die wêreld bring, en jy moet Hom die naam Jesus gee. 32 Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word. Die Here God sal Hom die troon van sy voorvader Dawid gee, 33 en Hy sal as koning oor die nageslag van Jakob heers tot in ewigheid. Aan sy koningskap sal daar geen einde wees nie.”
34 Maar Maria sê vir die engel: “Hoe is so iets moontlik, aangesien ek nog nooit omgang met ‘n man gehad het nie?” 35 Die engel antwoord haar: “Die Heilige Gees sal oor jou kom, en die krag van die Allerhoogste sal die lewe in jou wek. Daarom sal die een wat gebore word, heilig genoem word, die Seun van God. 36 Kyk, ‘n bloedverwant van jou, Elisabet, het in haar ouderdom self ook ‘n seun ontvang, en sy wat as onvrugbaar bekend was, is nou al in haar sesde maand. 37 Niks is vir God onmoontlik nie.” 38 Maria sê toe: “Ek is tot beskikking van die Here. Laat met my gebeur wat u gesê het.” Toe het die engel van haar af weggegaan.

Maria besoek Elisabet

38 Maria het haar sonder versuim gereed gemaak en haastig na ‘n dorp in die bergstreek van Judea gegaan. 40 Daar het sy in Sagaria se huis ingegaan en vir Elisabet gegroet. 41 Net toe Elisabet die groet van Maria hoor, het die kindjie in Elisabet se moederskoot beweeg, en sy is met die Heilige Gees vervul 42 en het hard uitgeroep:
“Geseënd is jy onder die vroue
en geseënd is die vrug van jou moederskoot!
43 Waaraan het ek dit te danke
dat die moeder van my Here
na my toe kom?
44 Kyk, net toe die geluid van jou groet
in my ore klink,
het die kindjie in my van vreugde beweeg.
45 Gelukkig is sy wat glo
dat in vervulling sal gaan
wat die Here vir haar gesê het!”

Die loflied van Maria

46 En Maria het gesê:
“Ek besing die grootheid van die Here,
47 ek juig oor God, my Verlosser,
48 omdat Hy na my
in my geringheid omgesien het.
Kyk, van nou af sal elke nuwe geslag my gelukkig noem,
49 omdat Hy wat magtig is,
groot dinge aan my gedoen het.
Heilig is sy Naam!
50 Hy bewys ontferming
van geslag tot geslag
aan dié wat Hom eer.
51 Kragtige dade het Hy met sy arm verrig:
hoogmoediges in hulle eiewaan
het Hy uitmekaargejaag;
52 maghebbers het Hy van trone afgeruk en geringes verhoog;
53 behoeftiges het Hy oorlaai met goeie gawes
en rykes met leë hande weggestuur.
54 Sy dienaar Israel het Hy te hulp gekom
deur te dink aan sy beloftes van ontferming
55 soos Hy dit toegesê het aan ons voorvaders,
aan Abraham en sy nageslag
tot in ewigheid.”
56 Maria het omtrent drie maande by Elisabet gebly en daarna teruggegaan huis toe.

Die geboorte van Johannes die Doper

57 Toe die tyd gekom het dat Elisabet se kind gebore moes word, het sy ‘n seun in die wêreld gebring. 58 Haar bure en familie het gehoor dat die Here aan haar groot ontferming bewys het, en hulle was saam met haar bly.
59 Op die agste dag het hulle gekom om die kindjie te besny, en hulle wou hom Sagaria noem na sy pa. 60 Maar sy ma het gesê: “Nee! Hy moet Johannes genoem word.”
61 Hulle sê vir haar: “Daar is niemand in jou familie wat die naam het nie!”
62 Met gebare vra hulle toe sy pa hoe hy wil hê dat die kindjie genoem moet word. 63 Hy vra toe ‘n skryfbordjie en skryf daarop: “Johannes is sy naam.” En almal was verbaas. 64 Onmiddellik het Sagaria sy spraak teruggekry en begin praat en God geprys.
65 Almal wat rondom hulle gewoon het, is met ontsag vervul, en in die hele bergstreek van Judea is daar baie gepraat oor al hierdie dinge. 66 Almal wat dit gehoor het, het daaroor nagedink en gevra: “Wat sal hierdie kindjie eendag word?”
Dit was duidelik dat die Here by hom was.
Die loflied van Sagaria
67 Sagaria, die kindjie se pa, is met die Heilige Gees vervul en het as profeet gesê:
68 “Lofwaardig is die Here, die God van Israel,
want Hy het sy volk in genade opgesoek
en vir hulle verlossing bewerk.
69 ‘n Sterk Verlosser het Hy vir ons laat opstaan
uit die huis van sy dienaar Dawid.
70 So het die Here dit reeds
van oudsher belowe
deur die mond van sy heilige profete:
71 om ons te verlos van ons vyande
en uit die hand van al ons haters;
72 om Hom te ontferm oor ons voorvaders
en sy heilige verbond te onthou.
73 Met ‘n eed het Hy dit bevestig
aan ons voorvader Abraham
dat Hy sou gee dat ons,
74 gered uit die hand van vyande,
Hom onbevrees kan dien
75 in vroomheid en opregtheid
al die dae van ons lewe.
76 “En jy, kindjie,
‘n profeet van die Allerhoogste
sal jy genoem word,
want jy sal voor die Here uit gaan
om sy pad gereed te maak,
77 om kennis van verlossing
aan sy volk mee te deel:
verlossing deur vergifnis van hulle sondes,
78 danksy die genadige ontferming van ons God.
Soos die môreson sal Hy opgaan
en uit die hoogte op ons afstraal,
79 om lig te bring aan dié wat in duisternis
en in die skaduwee van die dood lewe,
om ons voetstappe te rig
op die pad van vrede.”
80 Die kindjie het opgegroei en sterk geword deur die Gees en het in die woestyn gebly tot op die dag van sy openbare verskyning in Israel.

LUKAS 2

Die geboorte van Jesus

(Matt. 1:18-25)
2:1 In daardie tyd het keiser Augustus ‘n bevel uitgevaardig dat ‘n volkstelling in die hele ryk gehou moet word. 2 Hierdie eerste volkstelling het plaasgevind toe Sirenius goewerneur was in die provinsie Sirië. 3 Almal het gegaan om hulle te laat inskryf, elkeen na sy eie stad toe.
4 Ook Josef het gegaan. Hy het van die dorp Nasaret in Galilea na Judea toe gegaan, na Betlehem, die stad van Dawid, omdat hy tot die huis en geslag van Dawid behoort het. 5 Maria, sy verloofde, wat swanger was, het saamgegaan om ingeskryf te word. 6 Terwyl hulle daar was, het die tyd gekom dat haar kind gebore moes word. 7 Sy het haar Eerstelingseun in die wêreld gebring en Hom in doeke toegedraai en in ‘n krip neergelê, omdat daar vir hulle geen plek in die herberg was nie.

Die skaapwagters en die engele

8 Daar was skaapwagters in daardie omgewing wat in die oop veld gebly en in die nag oor hulle skape wag gehou het. 9 Meteens staan daar ‘n engel van die Here by hulle, en die heerlikheid van die Here het rondom hulle geskyn. Hulle het baie groot geskrik. 10 Toe sê die engel vir hulle: “Moenie bang wees nie, want kyk, ek bring vir julle ‘n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk bestem is. 11 Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid die Verlosser gebore, Christus die Here! 12 En dit is vir julle die teken: julle sal ‘n kindjie vind wat in doeke toegedraai is en in ‘n krip lê.”
13 Skielik was daar saam met die engel ‘n menigte engele uit die hemel wat God prys en sê:
14 “Eer aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir die mense in wie Hy ‘n welbehae het!”
15 Nadat die engele van hulle af weggegaan het na die hemel toe, sê die skaapwagters vir mekaar: “Kom ons gaan reguit Betlehem toe om te sien wat gebeur het, soos die Here dit aan ons bekend gemaak het.”
16 Hulle gaan toe haastig daarheen en kry vir Maria en Josef, en die Kindjie wat in die krip lê. 17 Toe hulle Hom sien, het hulle vertel wat oor hierdie Kindjie aan hulle gesê is. 18 Almal wat dit gehoor het, was verwonderd oor wat die skaapwagters hulle vertel het. 19 Maria het alles wat gesê is, onthou en telkens weer by haarself daaroor nagedink. 20 Die skaapwagters het toe teruggegaan terwyl hulle God loof en prys oor alles wat hulle gehoor en gesien het. Dit was alles net soos dit vir hulle gesê is.

Besnydenis, afsondering, reiniging

21 Ag dae later, toe dit tyd was om die Kindjie te besny, het Hy die naam Jesus gekry, die naam wat deur die engel genoem is nog voordat Hy in die moederskoot ontvang is.
22 Toe die reinigingstyd soos deur die wet van Moses bepaal, vir hulle verby was, het hulle Hom na Jerusalem toe gebring om Hom tot beskikking van die Here te stel. 23 In die wet van die Here staan immers geskrywe: “Elke eersteling van die manlike geslag moet vir die Here afgesonder word.” 24 Hulle het ook die reinigingsoffer gebring volgens die voorskrif in die wet van die Here, naamlik “’n paar tortelduiwe of twee jong duiwe.”

Simeon en Anna by die tempel

25 Daar het destyds ‘n man met die naam Simeon in Jerusalem gewoon. Hy was getrou aan die wet en vroom, en het uitgesien na die koms van die Verlosser van Israel. Die Heilige Gees was op Simeon 26 en het aan hom bekend gemaak dat hy nie sou sterwe voordat hy die Gesalfde van die Here gesien het nie. 27 Deur die Gees gelei, het hy opgegaan na die tempel toe. Toe die ouers die Kindjie Jesus bring om vir Hom die gebruiklike bepaling van die wet na te kom, 28 het Simeon Hom in sy arms geneem en God geprys en gesê:
29 “Here, laat u dienaar nou
in vrede gaan volgens u woord,
30 omdat my oë u verlossing gesien het
31 wat U gereed gemaak het
voor die oë van al die volke:
32 ‘n lig tot verligting van die nasies
en tot eer van u volk Israel.”
33 Sy vader en moeder was verwonderd oor die dinge wat van Hom gesê is.
34 Simeon het hulle geseën en vir Maria, sy moeder, gesê: “Kyk, hierdie Kindjie is bestem tot ‘n val en ‘n opstanding van baie in Israel en tot ‘n teken wat weerspreek sal word. 35 So sal die gesindheid van baie mense aan die lig kom. En wat jou betref, ‘n swaard sal deur jou siel gaan.”
36 Daar was ook ‘n profetes, Anna, ‘n dogter van Fanuel uit die stam Aser. Sy was al baie oud. As jong vrou was sy sewe jaar getroud, en na haar man se dood 37 het sy weduwee gebly. Sy was nou al vier en tagtig jaar oud. Sy het nie van die tempel af weggebly nie en het God dag en nag gedien deur te vas en te bid. 38 Juis op daardie oomblik het sy nader gekom en God gedank en oor die Kindjie gepraat met almal wat na die verlossing van Jerusalem uitgesien het. 39 Toe Josef-hulle alles nagekom het wat die wet van die Here voorskryf, het hulle na Galilea toe teruggegaan, na hulle eie dorp, Nasaret. 40Die Kindjie het gegroei en sterk geword, en Hy was vol wysheid, en die genade van God was op Hom.

Die Kind Jesus by die tempel

41 Jesus se ouers het elke jaar vir die paasfees Jerusalem toe gegaan. 42 Toe Hy twaalf jaar oud was, het hulle weer soos gebruiklik daarheen gegaan vir die fees. 43 En toe die feesdae verby was, het sy ouers die terugreis begin, maar die Kind Jesus het in Jerusalem gebly sonder dat hulle dit geweet het. 44 Omdat hulle gedink het Hy is by die reisgeselskap, het hulle ‘n dag lank gereis voordat hulle Hom onder die familie en bekendes begin soek het. 45 Toe hulle Hom nie kry nie, het hulle omgedraai na Jerusalem toe op soek na Hom. 46 Na drie dae het hulle Hom by die tempel gekry waar Hy tussen die geleerdes sit en na hulle luister en hulle uitvra. 47 Almal wat Hom gehoor het, was verbaas oor sy insig en sy antwoorde. 48 Toe sy ouers Hom sien, was hulle verslae, en sy moeder sê vir Hom: “Kind, waarom het jy so met ons gemaak? Kyk, jou vader en ek het met angs na jou gesoek.”
49 Maar Hy antwoord hulle: “Waarom het u na My gesoek? Het u nie geweet dat Ek in die huis van my Vader moet wees nie?” 50 Hulle het nie begryp wat Hy daarmee bedoel het nie.
51 Hy het toe saam met hulle na Nasaret toe teruggegaan, en Hy was aan hulle onderdanig. Sy moeder het al hierdie dinge in haar hart bewaar. 52 En Jesus het verstandelik en liggaamlik gegroei en in guns by God en die mense toegeneem.

'n Piktoriese uiteensetting van die Bybel